Covid-19 – Verhale van hoop

Lynnwood deel hul resep om ekologies verantwoordbaar te leef… 

Peet Crous (Lynnwood) skryf:  “Baie lidmate wil graag n bydrae lewer tot ekologies verantwoordbaar leef, maar voel oorweldig. Hier is praktiese raad vir gemeentes en skole om ten minste n begin te maak. Nobody made a greater mistake than he who did nothing because he could only do a little.”   [Foto regs : Peet Crous, die Pampoenboer]

* Kliek hier om die video te kyk.

 [Foto links: Jackie en Wilhelm Jordaan plant ‘n Van Wykshout oorkant die gemeente]

 

Universiteitsoord maak ‘n verskil

Universiteitsoord kry jaarliks vrugte uit Limpopo wat dan hier teen billike pryse verkoop word as deel van die gemeente se inisiatiewe om die studentebediening te befonds.

Daar is dus tans ‘n massa lemoene en avokadopere by die kerk beskikbaar. Dit kan daagliks van 10:00-12:00 en weer van 16:00-18:00 gekoop word.  Navrae: Fanie Schoeman (koster) 083 273 4562.

Baie van die vrugte word met die hulp van borge aan behoeftiges en verdienstelike instansies versprei. So het ‘n donateur dit moontlik gemaak dat daar hierdie week ‘n groot klompe lemoene en avokadopere aan Harmonie Oord geskenk is.

Persone wat wil borg, kan vir Fritz Snyman, studenteleraar, kontak by 082 332 5781 / fritz@universiteitsoord.co.za.

 

 

 

Harties en COVID-19

 

Daar is twee belangrike wyses waarop HULP en HOOP in dié moeilike tyd voorsien word:

  1. Na binne (ons eie lidmate):  Ons het vier WhatsApp-groepe gestig, waarop elke lidmaat geplaas is. Ons predikant stuur daagliks kort boodskappies van hoop uit en daar is ook elke Sondag ‘n erediens opgeneem en gestuur. Ons juniorjeug word d.m.v. kosbare poppekaste bedien. Nadat eredienste met 50 persone kon begin, is twee eredienste per Sondag geadverteer en elke erediens is steeds vol. Aan God al die eer!

  1. Na buite (gemeenskap):
    * Ons gemeente voorsien maandeliks aan 60 huisgesinne in Danville elk ‘n kospakkie.
    * Ons lidmate dra ook by tot ‘n goed, georganiseerde gemeenskapsprojek: “Hulp is op pad”. Die organisasie het toegang tot talle informele nedersettings in en om Hartbeespoortdam. ‘n Lidmaat het ook ‘n projek in die“Purple Moss”-gemeenskap gevestig, waarby van ons lidmate betrokke is.

Omdat ons primêre fokus daarop gerig is om ons lidmate te bemagtig om elkeen Jesus se hande en voete in die wêreld te wees, is talle van ons lidmate, asook selgroepe deurentyd by verskillende projekte, waar hulp aan mense in nood voorsien word, in hierdie tyd betrokke.

 

Gemeente se kosprojek herinner aan die vermeerdering van 5 brode en 2 vissies

Goeie dag my naam is Hennie Becker en ek is deel van die kosprojek span van die NG Villieria kerk.

Dit is wonderlik om te weet hoe die Here die projek seën en hoe genadig en liefde vol Hy is.

Ons het ‘n fantastiese span wat saam ons werk:  Christo Inngs doen die aankope, Helena Inngs help ons met die admin. Reinhardt van die Moot Crime Services wat aflewerings doen en Marinda van die SAPD wat help met kos insameling.  Ds Rehan, Ds Derek en Ds Jaco wat help met die berading asook aflewering van die pakkies. Ons het ook ‘n paar vrywilligers wat kom help om die pakkies reg te kry.

Die kosprojek het begin toe die inperking aangekondig is. Ek het die nood ge-identifiseer toe ek eendag gery het en besef het hoeveel mense op die straat is. Dit het begin by ons sel waar ons begin het om kos in te samel, van daar af het die net gegroei. Ons sien hierdie kosprojek soos die 5 brode en 2 vissies dit hou nie op nie. Ons kry fantastiese donasies en ons word in oorvloed geseën met hierdie projek.

Ons is nou al op die punt van die kosprojek waar ons klere ontvang, ons verkoop die klere en gebruik daardie geld om nog kos te koop. Daagliks word die behoefte net al hoe groter. Tydens hierdie tyd is dit die beste ding om jou seëninge te deel met ander mense.

My gebed vir die projek is dat ons as ‘n span vir die Here nie moet vra vir ligter laste nie maar vir sterker rûe (soos Phillips Brooks se gebed).

Wanneer ons op die regte plek is en doen wat God wil he ons moet doen, sal ons in omstandighede wat ander mense laat verkrummel, floreer, omdat ons God se genade het om dit te hanteer.   [Radio Kansel Boekie se woord van vandag].

 

Ek is COVID-positief – my ervaring

Min het ons geweet, toe kerkklokke 2020 inlui, wat alles hierdie jaar vir ons sou voorlê. Soos talle ander het ons gehoop op ‘n rustige, krisisvrye jaar. Ons sou mettertyd leer dat nood en krisisse in verskeie vorms kom – 2020 sou die jaar van die gevreesde COVID-19 virus wees.

Ons het die nuus getrou gevolg toe die virus soos ‘n blits regoor die wêreld uitbreek. Ons het geluister na raad omtrent bekamping van die virus. Die pandemie het uiteindelik ook sy spore in Suid-Afrika begin laat, en ons het amper met ‘n gevoel van verligting na President Ramaphosa se eerste aankondiging geluister.

Ons het alles gedoen wat ons moes doen: self-isolasie en sosiale distansiëring toegepas, hande gewas, maskers in die openbaar gedra, en ten spyte daarvan tog die virus opgedoen.

Mens skrik jou buite weste as jou algemene praktisyn jóú skakel ‘n dag nadat jy   aangemeld het om te toets of jy die virus onder lede het. As jou dokter se naam op jou selfoon se skermpie verskyn, dan wéét jy, al klop daar iewers diep in jou hart ‘n vae hoop dat jy bloot net griep het. Ten spyte van hierdie helder wete, skop jou hart ‘n paar slae mis as sy ferm stem jou vertel dat jou toets positief is. Jy het dit – die gevreesde virus, en jy voel totaal onvoorbereid op alles wat op jou wag.

As gesin het ons verslae gevoel, die waarheid probeer ontken, naarstiglik verder opgelees en die jongste statistiek bestudeer. So of ons die siekte sou besweer deur inligtingstukkies bymekaar te maak.  Jy word skielik met jou eie mortaliteit gekonfronteer. Daar knaag gedurig ‘n vraag in jou agterkop: gaan ek sieker word? Of: wat as een van ons so siek word dat hospitalisasie nodig is? En dan die heel ergste: gaan ons oorleef?

Mens weet nie. Al wat jy weet is dat jy siek is. Die afgelope paar maande se spanning word skielik angs. Jy is siek. Jou lyf en keel is seer, hoofpyn en koors word elk ‘n aaklige metgesel. Jy voel hoe jy daagliks agteruitgaan, en die chaos waarin jou lewe skielik gedompel is, maak nie sin nie. Ons het met ‘n skok besef dat ons nog kruideniersware wou gaan koop, maar dit nou nie meer sal kan doen nie.

Ons moes skielik ‘n nuwe werklikheid konfronteer: ons is nie net siek nie, ons is nou ook afhanklik van vriende en familie om te oorleef. Iemand moet melk en brood koop, medisyne by die apteek oplaai, voorsorg tref vir gesonde, warm maaltye kort voor of tydens beurtkrag. Was dit nie vir die liefde en ondersteuning van familie, vriende en bure nie, sou ons waarskynlik baie swaarder gekry het.

Die virus maak sy verskyning in meer as een gedaante. Een na die ander, het ons gesinslede ons reuk- en smaaksintuie verloor. Ons was murgmoeg. En toe, in die tweede week, skielik ook kortasem. Elke dag het soos ‘n berg voor ons gelê, die spanning, die trauma van wat nou, Here, se toename in intensiteit was skrikwekkend.

Ons kan nou terugkyk en sê: ons het Covid oorleef. Ons is deur die spanning, die ondraaglikheid van nie-weet-nie, gesond anderkant uit. Wanneer dinge te veel geraak het, ons swak en moedeloos gevoel het, het ons gevoel na huil. Toe vriende ons met liefde en sorg oorval het, het ons na mekaar gekyk en gehuil. En ons het ons voorgeneem om dieselfde liefde en toewyding uit te deel as die mense om ons siek en swak is, en hulp nodig het. Die Here het deur Covid-19 ons oë opnuut weer oopgemaak vir die klein dingetjies wat ons in ons besige lewens begin miskyk het. Ons is weer dankbaar vir elke sonsopkoms, voëltjies wat kwetter in ons tuin, geliefdes ver en naby, die kleur van ‘n blom, ons hond se onvoorwaardelike getrouheid. Die lys word te lank om op te noem.

Ons was siek.

Ons is dankbaar.

Naudé en Erna Kritzinger

 

Gesinne en kinders in nood is ons verantwoordelikheid sê CMR Noord

Maryke Venter, direkteur van CMR Noord skryf:  CMR Noord het sedert die grendeltyd in Maart begin het, deurlopend dienste bly lewer.  Dit het natuurlik gepaard gegaan met uitdagings en kopkrap om op nuwe maniere te kon voortgaan.  Tydens vlak 5 het almal tuis gewerk en via elektroniese of telefoniese platforms met kliënte kontak gemaak.  Die bestuur en personeel moes vinnig leer om te Zoom.  Permitte is in hierdie tyd bekom om wel aan te gaan om gesinne met kinders waar krisisse ontstaan het, fisies te kon bystaan.  Ook het die kosnood in die tyd geweldig toegeneem.  In daardie eerste maand van grendeltyd is oor ‘n 1000 mense bereik met kos, ten spyte van allerlei struikelblokke soos permitte wat bekom moes word.

Sedert Meimaand het ons stadig maar seker begin om weer vanaf kantore dienste te lewer met baie goeie en deeglike voorsorgmaatreëls in plek, wat ongelukkig nogal ‘n groot finansiële las op die organisasie plaas.  Teen Junie was meeste kantore 100% beman en aan die gang.  Ons het wel in die afgelope week ‘n besluit geneem om weer op ‘n rotasiebasis vanaf kantore te werk, agv die stygende getal infeksies, veral in Gauteng.  CMR Noord het ‘n verantwoordelikheid om aan te gaan om gesinne en kinders in nood by te staan, maar ons het ook ‘n verantwoordelikheid om dit op ‘n verantwoordbare manier te doen.

Die organisasie kan met groot dankbaarheid getuig van die Here se getrouheid in die tyd.  Die ondersteuning wat ons veral vanuit die kerkgemeenskap ontvang het, laat ons met ‘n diepe dankbaarheid.

Dit bly ‘n voorreg om, ten spyte van uitdagings, binne hierdie nuwe normaal die hande en voete van ons Here Jesus vir ‘n stukkende wêreld te wees.

 

Florandia kan volhou of verligting te bring…

Gerrie Strydom, leraar van Florandia skryf:  “Florandia gemeente is soos, feitlik alle ander gemeentes, die afgelope tyd gekonfronteer met die nood wat ontstaan het agv die inperking.

As gemeente is ons reeds jare betrokke by organisasies soos Tshwane North Outreach, NPOS, Pennies Kleuterskool, Wolmer Naskool en ‘n aantal ouetehuise. In hierdie tyd was ons bevoorreg deurdat ons nie nodig gehad het om hierdie hulp te verminder nie. In sekere gevalle kon ons selfs die hulp verhoog.

Danksy ‘n onverwagte skenking kon ons ook uitreik na Abraham Kriel kinderhuis, CMR Noord (die Warmbadstreek), asook die Noordelike Sinode se bedieningsfonds.

Op plaaslike vlak is kospakkies voorsien aan gesinne in nood, veral in die Wolmeromgewing in Pretoria Noord. Die nood daar is baie groot.

Ons is die Here baie dankbaar dat dit vir ons moontlik is om te help en besef maar net dat daar nog groot behoefte gaan wees vorentoe.”

 

“Oppi Stoep” is gasheer vir haweloses

“Oppi Stoep” van die Universiteit van Pretoria is daar ‘n verskeidenheid kerke en gemeentes van verskillende denominasies wat die studente en gesinne van die omgewing bedien.  Die gemeentes van NG Universiteitsoord, Brooklyn Gereformeerde Kerk, St. Wilfrid’s Anglican Church, Elim Full Gospel Church en Philadelphia Hervormde Kerk werk en kuier gereeld saam, onder andere tydens studente-verwelkoming, ‘n gesamentlike Hemelvaartdiens en selfs ‘n jaarlikse straatbraai.  Tydens die grendeltydperk werk die Oppi stoep-gemeentes egter saam om ongewone gaste te ontvang.

In samewerking met PEN en TLF word 24 hawelose mans op Sondag 5 April 2020 by St Wilfrid’s ontvang.  By Elim word 4 gesinne en 12 studente verwelkom.  Vir die duur van die grendeltydperk is hulle die gaste van die Oppi stoep-gemeentes.  Die gemeentes werk saam om matrasse, beddegoed, toiletware, klere en natuurlik 3 gesonde maaltye per dag aan hierdie gaste te voorsien.  Elke gemeente kry ‘n beurt en lidmate ry Pretoria plat om donasies op te laai, groot potte kos voor te berei en te bedien.

Nie net word hulle fisies versorg nie, maar ook geestelik met daaglikse Bybelstudie en programme, en daar word ook saamgewerk om die haweloses te rehabiliteer.  Hulle word bygestaan om hulle verslawings te oorkom, met hulle families te herenig, werk te kry en selfs om hulle eie besighede te begin.

Gaan kyk gerus by https://www.universiteitsoord.co.za/hoe-kan-jy-help

Dit is ‘n voorreg om oor grense, ekumenies saam met ander Christene, dié in nood te dien.

 

Die geskenk van Corona

[*Fotokrediet: Albert Bredenhan, PixelPro]

“God het vir my ‘n home gegee vir die laaste month.  Die PEN shelter het my gehelp om vir ‘n maand niks drugs te gebruik nie.  God het my prayers gehoor!” – Nathan Staggie.

PEN het nie net vir Nathan die geleentheid gebied om veilig te bly tydens inperking nie, maar vir vele ander kwesbare mense wat wou vlug van die Coronavirus.  Elke nou en dan skerts die PEN span oor die geskenk van Corona.  Corona? Geskenk? Hierdie geskenk het nuwe samewerkinge tussen NPO’s laat gebeur en so 15 skuilings vermag in en om Pretoria.

Dit het vennootskappe, vriendskappe en dromers gesmee en nuwe maniere van bediening oopgesluit.  Corona het duisende kinders van God tuis agter hul rekenaars en slimfone gemobiliseer om bykans 500 hawelose en kwesbare mense veilig en lewendig te hou tydens inperking.

Die resultaat: Tonne voedsel donasies, komberse, maskers en finansiële donasies het PEN se hande sterk gemaak om ons visie van “ignite change” gestand te doen.

Nie net vir Nathan nie, maar die honderde ander Nathans wat armoede en die Coronavirus in die gesig staar.

Kan jy ons help tydens inperking?  Kontak Dr. Marinda van Niekerk by marinda@pen.org.za.

 

Inry-kerk

Florauna NG gemeente het op Sondag, 7 Junie 2020 ons eerste eredienste sedert die begin van inperking gehou.  Die eerste diens was om 08:00 met die tweede diens direk daarna om 09:00.

Niks nuuts nie?   Nee…. eerder “RETRO” – ons het INRY-kerk gehou!

Parkeerplekke is afgemerk sodat gesinne in hul voertuie kon sit en die predikant op sy “preekstoel”  aan die buitekant van die kerk kon sien.

Ons gemeente maak al ‘n paar jaar van ‘n klein FM-sender gebruik sodat gemeentelede wat met hul gehoor sukkel, hul selfone tydens eredienste as “versterker / gehoor apparaat” kan gebruik.   Deur jou selfoon se radio toepassing (App) en oorfone skakel jy dan in op ‘n FM radiokanaal en luister na die preek.  Hierdie sender se sein is effens versterk sodat dit nie net binne-in die kerk nie, maar ook tot buite op die kerkterrein opgevang kan word.

Om seker te maak dat ons binne die wet optree, het ons die plaaslike polisie kommissaris gaan spreek.

Die volgende reëlings waarop ooreengekom is, is vooraf deeglik met die gemeente gekommunikeer:

– Voertuie moes 1,5m uitmekaar parkeer.
– Niemand mag uit hul voertuie geklim het om mekaar te groet en te kuier nie.
– Slegs gesinslede wat onder een dak woon mag in een voertuig gewees het.
– Net een stel toilette was oopgesluit – vir noodgevalle.
– Indien jy jou motor se venster oopgemaak het, moes jy jou masker opsit.
– Slegs die nodige personeel was binne-in die kerkgebou toegelaat.
– Gemeentelede moes seker maak dat hul motor of selfoonradios reeds voor die tyd ingeskakel was en werk, aangesien niemand hulle by die kerk daarmee sou kon help nie.
– Die SAPD behou die reg voor om verby te ry om seker te maak dat daar by reëls gehou word.

Ons het selfs gevra dat elke gesin hul eie brood en wyn/sap saambring sodat nagmaal gebruik kon word.  Mense het nagmaal in hul motors gebruik en saam geluister na lofliedere deur 2 lede van ons lofspan.   Ons kon mekaar weer in die oë kyk, waai, saam bid en iets van ‘n gemeenskap van gelowiges beleef.

Almal het by die reëls gehou, en het na afloop van die diens toeters gedruk en ligte geflikker om mekaar te groet.  Die terugvoer wat ons na die tyd gekry het, getuig van groot dankbaarheid. (facebook foto’s en kommentaar aan die einde van die berig)

Vir meer inligting rakende die “Home FM transmitter kit” wat ons gebruik:  https://www.elecsky.com/100mw-500mw-power-adj-76108mhz-home-fm-transmitter-black-p-7.html

Ons toerusting is lank voor inperking reeds aangekoop, dus was die bestel en aflewer daarvan nie ‘n probleem nie.

Daar het baie tyd, werk en geduld in die opstel en verfyning van die stelsel ingegaan en ons is baie dankbaar vir ‘n gemeentelid wie oor die nodige kennis en vaardighede beskik om dit te kon doen.

 

Inry “weer gebore”

Koos Nel, leraar van Haakdoorn skryf:  “Om die terugkeer van eredienste uit die ballingskap van inperking te vier, het die NG Gemeente Haakdoorn alles gedoen wat ons nie mag nie, maar sonder om een wet te oortree.

Ons het ‘n erediens gehou met 87 mense teenwoordig, ons het gesing, ons het saam koffie gedrink  en popcorn geëet – alles elkeen in sy eie motor:
Ons het ‘n “drive-in”-erediens gehou, met ‘n vullis-trailer as liturgiese ruimte; met ‘n gemaskerde “band” (lede twee meter uit mekaar), liedere en skriflesing op WhatsApp, by die ingangshek (saam met die koors-meet, hande spuit en register hou) het elkeen ‘n sakkie popcorn gekry en ‘n bekertjie met ‘n sakkie melk-tert of soetkoek cappuchino en ‘n “stir”stokkie – elkeen moes net sy/haar/hulle eie fles kookwater saambring.

Dit was so roerend, die idee het ontstaan dat ons elke jaar op die Sondag naaste aan 7 Junie ‘n gedenkdiens hou: die Here het ons eredienste weer teruggegee!”

 

Kospakkie bring uitkoms aan baie

Koos Nel, leraar van Haakdoorn skryf

“As daar nood is, wil ons help, maar waarop fokus jy?

Die “kospakkies” help ons om twee groepe se behoeftes aan te spreek:

1. diegene wat, spreekwoordelik, in die sloot is (wat niks het nie) en
2. diegene wat besig is om te gly na die sloot toe (drastiese salaris aanpassings, swak besigheidsgeleenthede, ens. – op hierdie stadium baie van ons).

Die kospakkies bestaan uit ‘n mengsel van rys, soja, gedroogde groente en vitamienaanvulling:  jy voeg net water by en kook dit.  Dit verskaf ‘n maaltyd vir ‘n gesin van 2 volwassenes en 4 kinders (of 4 volwassenes).  Met ‘n bietjie inisiatief kan jy ‘n heerlike maaltyd daarvan maak (nie dat smaak saak maak as jy niks het nie!).

Die pakkies werk onder R10 uit.  Ons pak op Woensdae die pakkies wat versprei word aan behoeftiges en dan verkoop ons ook die pakkies aan mense wat dit kan bekostig sodat hulle hulle rande kan spaar.”


Wespoort Uitreikprojek

Dollie Verhage, projekbestuurder vertel soos volg:

“Die Wespoort uitreikprojek bestaan, met die genade van die Here, reeds die afgelope 28 jaar. Sestig gesinne word deur die projek gehelp. Die projek bied veskillende dienste aan, onder andere ‘n speelgroep. Die projek word bestuur deur myself en Jakkie Verhage bygestaan deur ń komitee.

Covid 19 het elke persoon op die planeet aangeraak en dus ook ons projek. Die kwesbares in ons gemeenskap is in hierdie tyd op die volgende wyses bygestaan:
*  Alle nodige inligting ivm die virus is aan elke persoon deurgegee en elke persoon/gesin ontvang tans ‘n “koopbewys” vir kosaankope.
*  180 Maskers is deur die dames van die projek gemaak en dit is aan die gesinne uitgedeel.
*  Alle kleuters ontvang weekliks opvoedkundige opdragte en ondersteuning.
*  Die groep is tans besig om tuis 100 serpe te brei vir die  aftreeoord in die omgewing (soos vorige jare).

‘n Woord van hartlike dank aan ons vrywilligers, gemeentes en skenkers vir die wonderlike ondersteuning in hierdie tyd.

[Sien www.wespoortuitreik.co,za vir verdere detail].

Gemeente vernuwe bestaande uitreike

Hennie Kotze, leraar van Rustenburg-Moeder skryf:

“Die pandemie het sy eie uitdagings gestel, maar dit het ook nuwe geleenthede na vore gebring.  Soos met die meeste ander gemeentes, moes ons oorslaan na digitale eredienste.  So is ‘n klomp nuwe mense bereik.  Op die terrein van hulpverlening het daar ‘n goeie tendens ontstaan.  Met die kerkdeure en die georkestreerde kospakkies vanuit die kantoor wat feitlik gestaak is, het lidmate vir mekaar verantwoordelikheid  begin neem.  Dalk was dit nog altyd so, maar skielik het ons bewus geword hoe mense na mekaar toe uitreik.

Ons het sosiale platforms in plek gestel waar diegene wat geestelike en emosionele ondersteuning nodig het, steeds hulle storie kon deel en berading en gebed kon ontvang.  Hierdie beradings het toegeneem hoe langer die grendeltyd geduur het.

Ons skolebediening het verskuif vanaf die verhoog na die sms sisteme van die skole.  Skole vra ook vir spesifieke video-boodskappe.  Hierdie opnames versprei hulle dan self na die onderskeie groepe.”

[Bekers deur lidmaat gemaak ter viering van die gemeente se 170ste verjaarsdag]

Kameeldrif en Kamcare moet leer swem!

Roelf Opperman, leraar van Kameeldrif skryf:

“Dis ongelooflik hoe vining mens leer swem as jy in die water gegooi word!   Die een oomblik nog is jy met gewone dominee- en gemeentedinge besig en die volgende oomblik is alles deurmekaar.

Ek glo nie dit was toevallig dat ons in Kameeldrif ‘n klompie jare gelede ‘n nie-winsgewende maatskappy genaamd Kamcare gestig het om in ons gemeenskap betrokke te raak nie. Vandag besef ons, ons sou nie sonder Kamcare net in die afgelope maand 547 kospakkies wat 1081 mense bevoordeel het, van deur tot deur kon aflewer nie.

Dan tel ons nie eers die mense wat deur honderde dosyne eiers, vleis, groente en sampioene wat ons by voedingskemas in ons omgewing kon gaan aflaai het, bevoordeel is nie. Alle eer aan ons Hemese Vader dat Hy ons as voertuig kon gebruik om in ons omgewing ‘n verskil te kon maak”.

Geel lint – Help my!! 

Wouter de Vos, leraar van Wonderboompoort deel die volgende met ons:  “Die geel lint inisiatief het in Vanderbijlpark begin om aan te toon waar mense ‘n behoefte aan kos het tydens die Covid-19 pandemie.  Inwoners wat in nood verkeer kan enigiets geel voor hul wonings vasmaak.

Ons gemeente ondersteun hierdie inisiatief en wil graag alle gemeentes oproep om op die uitkyk te wees vir huise in u omgewing waar ‘n geel lint, ‘n geel checkerssak of enigiets geel vasgemaak is voor ‘n huis, aan die palissade of posbus.

Ons gemeente laai weekliks by 25 sulke hekke kossakkies af in Mountain View en Suiderberg, wat onder andere deur skenkings van Brinant moontlik gemaak is. Ons is ook baie dankbaar teenoor ‘n lidmaat met ‘n bakkery wat elke week 100 brode skenk en baie lidmate wat aangebied het om sop te maak vir dié gesinne”.

Magalieskruin se pampoen storie

Ons het oor die ses ton pampoene – binne ‘n week uit gegee (na meer as 20 organisasies – ongeveer 649 honger gesinne). Met die uitgee van hiervan het ek ‘n waardevolle les geleer: die grootste nood is nie noodwendig die honger. Dit is eerder dat elkeen van ons moet uitvind, wat dit is wat die Here wil hȇ ons moet doen, om dinge soos die honger te verlig.

Die pampoene sou nie al die honger mense kon voed, sonder:
*  ‘n Boer en sy mense wat dit geskenk en vervoer het
*  mense wat die pampoene afgelaai het by die kerk
*  mense wat wat die pampoene kom haal, en uitgegee het.

Ons impak kan soveel groter wees as elkeen sy deel doen in hierdie tyd. Wat is dit wat die Here wil hȇ jy moet doen? Onthou: ons het mekaar nodig!     Lizette van Rooyen

Pierneef:  Dorkas se kombuis kan weer sorg…

Paullet Grobler, leraar van NG Pierneef skryf:  Hier is ‘n verhaal van hoop van een van ons gemeentelede.  Marlie Janeke is in beheer van Pierneef se voedselprojek. Die projek voorsien weeklikse kospakkies aan ‘n skool naby die gemeente (25 gesinne) en gedurende hierdie tyd het hulle ook pakkies voorsien aan gesinne in die gemeente en vir gesinne van ander  barmhartigheidsprojekte waarby die gemeente betrokke is.

Marlie skryf:  “Op 1 Mei het ek en my ander helfte, Kitkat besoek om aankope te doen vir die voedingskema. Die skole gaan begin en wil ek nie sonder voorraad wees nie.  So met die staan by Kitkat hou ek die Vroueaksie groepie op hoogte van my vordering, sommer eintlik net vir die geselligheid en saamgesels want die ry is laaaaaaaaaaaaaank.

Nie lank daarna nie, kry ek ‘n boodskap, “Marlie ek betaal nou dadelik ‘n geldjie oor vir jou aankope”.  Dit maak my hart warm. Tweede oproep terwyl ek staan, “Marlie koop asb 30 blikkies chakalaka, ek bring die geld vir jou” en so raak die wag in die ry ‘n plesier.  

By die huis gestop kry ek ‘n oproep dat daar iemand voor my hek staan. Ek neem toe nou aan dit is die Chakalala geldjies. Toe nie, dit was 20 pakkies spaghetti, 20 blikkies baked beans en 10 x 900g konfyte wat afgelaai word. Vierde oproep “ ek is hier met die chakalaka geldjies”.

3 Mei nog ‘n oproep – “ek het pasta vir jou”.  Gemasker in die kar, gaan laai ek toe 12 pakkies pasta, 200 teesakkies en 20 pakkies sop op.

Ek lees die boodskappe op sosiale media,  pakkies wat te min is, pakkies wat te laat afgelewer gaan word en ek voel onmoontlik TROTS. TROTS daarop dat as ‘n pakkie vandag gevra word dit binne 5 minute gepak kan wees, gereed om afgelewer te word. En dan staan ek in NEDERIGE DANKBAARHEID teenoor God, en ek sê DANKIE Heer, ek vra HELP Heer, BESKERM en SEën asb Heer.

Mag ons elke dag se pogings geseën word.
Marlie Janeke (Dorkas se kombuis) – NG Pierneef

 

Waterberg: Wat is in die boks, mamma?

Riaan Odendaal, predikant van Waterberg, skryf: Ek was gistermiddag persoonlik baie diep geraak toe ‘n klein dogtertjie saam met haar ma met die kartondoos vol kos van die hek af huis-toe stap en vra: “Wat is in die boks, mamma?” Die ma antwoord: “Dis ons kossies.” Waarop die dogtertjie reageer met: “Sjoe, dit is baie. Liewe Jesus is goed vir ons!”

Die Modimolle Voedingsveldtog het tydens die Paasnaweek begin. Mense het by ’n winkel wat tydensdie inperking ‘n noodsaaklike diens verskaf het, begin hulp vra. Op versoek van die winkeleienaar het donateurs nie-bederfbare kos begin aflaai. Die leraars van al die verskillende Christelike kerke in Nylstroom het ‘n ZOOM-vergadering gehou en besluit om saam met verskillende rolspelers in ons gemeenskap hande te vat om hierdie hulp ten beste te koördineer en van een sentrale punt af te laat gebeur.

Die samewerking van die Modimolle-Mookgophong Plaaslike Munisipaliteit, die drie groot welsynsorganisasies, RATA, Klub Helpmekaar en Hands of Hope, asook Afriforum/Solidariteit en Helpende Hand, die Waterberg Sakekamer, die plaaslike Moskee en die Indiër-gemeenskap is verkry. Daar is ook skakeling met die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling rakende Staatshulp.

Persone wat aangewys is as leiers, is mense wat kerklik en polities neutraal staan en dit maak dat almal gemaklik kan saamwerk.

Aanvanklik is ‘n weeklikse kospakkie met vars en nie-bederfbare produkte by mense wat swaarkry afgelaai. Ons het begin met 356 adresse, maar dit het met die Fase 4-inperking verminder na 285. Tans voorsien ons twee-weekliks en sommige adresse, maandeliks.

Kospakkies word vanuit Waterberg se kerksaal, kombuis en koelkamer versprei en alle veiligheidsmaatreëls is mooi in plek.

 

CMR Noord

DANKIE aan elkeen wat reeds bygedra het tot gesinne se oorlewing in hierdie tyd van nood!  CMR Noord kon met JOU hulp reeds 279 gesinne en 861 in

dividue bereik sedert 26 Maart deur middel van hul 3 programme van Hoop: * Gesinsbewaring, * Kinderbeskerming en * Armoedeverligting.  Kospakki

es is afgewer vir 498 individue in 146 gesinne.

Met die sluitingstydperk wat verleng is word die nood steeds groter…  hulle het steeds hulp nodig vir behoeftige kinders en gesinne by hul Sentrums van Hoop. R500-R1000 kan ‘n gesin voed vir 3 weke.
[Kliek hier vir die volledige inligting]

 

Louis Trichardt:  Skenkings van Hoop

Bergcare, ‘n geregistreerde diensorganisasie in die gemeenskap van Louis Trichardt wat vanuit die gemeente bedryf en bestuur word, het die afgelope 40 dae deernispakkies en kospakkies aan ongeveer 2700 persone in die gemeenskap uitgedeel.  Alles wat uitgedeel is, is skenkings van boere, diensorganisasies, maatskappye en persone in die gemeenskap van Louis Trichardt.

Share